Grasren 2010 Datum: 20/2/2010.

Grasren Pamflet
Grasren 2010 Pamflet!

Die 2010 grasren word weer vanjaar gehou op Saterdag 20 Februarie by Enkeldoorndam, 24 km vanaf Heilbron op die Vegkop (Lindley) pad. Die GPS koordinate is S27 27.570 E27 54.722. Tyd 7.30vm met laaste vertrektyd 11:00vm. Prysuitdeling 15:00. Drink en eetgoed word op die terrein en langs die roete verkoop.

Toegang: R15 per voertuig.

Grasren inskrywings: (Groen roete vir voertuie met lae grondvryhoogte) Motorfietse en quad bikes R100. Motorvoeruig tot 4 persone R120, daarna R25 per persoon ekstra. 4x4 Roete(Rooi roete vir vernuftige 4x4 bestuurders) R200 per voertuig. Kinders onder 8 gratis.

  • Fine-Ice-Wine-Time van VAN LOVEREN. Besondere "Slush Puppy" wyn.
  • Senwes Grassnyer wedren!! Bring jou eie of huur een.
  • Putjiespel (Gholf) Wen 'n skaap.
  • Braaipakke beskikbaar met heerlike bosveldhout vure.
  • Baie, baie pryse.
  • Gaskunstenaar.

Meer inligting oor die 2010 Grasren!

Vegkop: Historiese Terrein

20 Km suid van Heilbron is die historiese terrein van Vegkop. Op 2 Oktober 1836 het die veldslag plaasgevind tussen die Voortrekkers en die Matabeles. 35 Weerbare manne onder leiding van Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers het hier die oorwinning behaal oor die duisende Matabeles onder leiding van Kalipi. Slegs 2 Voortrekkers sterf teenoor 430 matabeles. Nicolaas Potgieter, broer, en Piet Botha, swaer van Hendrik Potgieter is hier op Vegkop begrawe.

Die plaas Vegkop het 12 jaar na die slag van Vegkop die eiendom geword van P.A. Cilliers, broer van Sarel Cilliers. Hy het dit bekom deur okkupasie, d.w.s hy het van ligdag tot donker te perd gery en sy bakens afgesteek. Die plaas Vegkop was oorspronklik 3413 morg groot. Baie jare later is 324 morg deur die staat aangekoop vir £ 3,888 vir ‘n feesterrein.

In 1904 het die Christelike Jongeliede Debats Vereniging ‘n saal gebou waarin daar op 16 Desember geloftefees gehou is. Die eerste monument is in 1883 bo-op die kop opgerig en is later weer veskuif na die feesterrein. In 1945 is ook ‘n Museum ingerig op die terrein. Tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938 is die tweede monument, ‘n klipstapel, op die terrein opgerig. Daar is ook 7 bome geplant, waarvan net 3 oorleef het. Een boom is geplant deur Henning Klopper, leier van die Simboliese Trek.

Kort na die Anglo Boere Oorlog het die Helpmekaar beweging ‘n plaasskool en koshuis op Vegkop begin. Dit was ‘n redelike groot skool met ‘n skoolhoof en 2 assistente. Die skool was selfversorgend met hul eie melkkoeie, skape, varke en hoenders. Vandag is nog net die fondasies te sien.

In die sewentigerjare het die Regering begin met die restourasie van Vegkop. ‘n Nuwe saal, met funksionele geboue is opgerig en die C.J.D.V. saal is ingerig as ‘n museum. Die 2 gesneuwelde Trekkers is op die terrein herbegrawe. ‘n Pragtige standbeeld deur die beeldhouer Coert Steynberg is teen die hang van Vegkop opgerig. Dit staan bo-op ‘n hoë klipstapel. Dit was Steynberg se heel laaste werk en hy noem dit sy “Geloofsmonument”. Teen die ringmuur rondom die beeld is 6 friese deur sy dogter Issa Wichers. Dit beeld die slag van Vegkop uit. Die gerestoureerde kompleks is Oktober 1984 onthul.

Die RGN het die feesterrein oorgedra aan die gemeenskap van Heilbron. Daar is ‘n Artikel 21 Maatskappy gestig en die Direksie is verantwoordelik vir die instanhouding van die terrein.

Simboliek van Vegkop Monument

Die opgestapelde klippe simboliseer die omsingelende bedreiging van destyds en vandag -- die totale aanslag van fisieke en geestelike magte teen die Christelike beskawing.

Uit herdie vyandelikhede verrys triomferend die forse gestalte van ‘n leier -- weliswaar met een been nog binne die vyandelike omsingeling, maar met erkentlike geloof aan die oorwinning, hou sy linkerarm die Bybel vas en sy regterhand ‘n geweer wat in nederige onderworpenheid teenoor die Almagtige God afwaarts wys en waarteen vyandelike assegaaie breek en knak.

Die beeldhouer het hiermee Efesiërs 6 : 16 opbeurend vir ons tyd vergestalt: “Behalwe dit alles neem die skild van geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die bose sal kan uitblus”.